Talle skoonheidsalonne bied tepeltatoes aan. Maar dit is nie dieselfde as dermapigmentasie nie, al kom dit ook neer op werk wat met ’n tatoepen en -ink gedoen word. Kies vooraf slim, sodat jy nie onnodig tyd en geld verspil nie. Deur Salome Delport.

Tanya Swiegers-Loots is die enigste opgeleide dermapigmenttegnikus in Suid-Afrika wat in tepel/areola-restorasie spesialiseer. Hierdie oud-kunstenaar het na haar eie ervaring met borskanker besef dat Suid-Afrikaners nie dieselfde opsies vir die restoraise van tepels het as ander lande nie.

“Die werk wat ek hier gesien het was plat en twee-dimensioneel. Toe ek begin oplees, het ek gou besef dat die veld van dermapigmentasie hier nog grootliks onbekend is. By ons doen enkele plekke kosmetiese tatoes, maar dit voldoen nie regtig aan die standaarde nie.”

Wat is dermapigmentasie dan?
Tanya verduidelik dat dit by die definisie begin – letterlik by die soort werk wat met dermapigmentasie en met kosmetiese tatoes bedoel word.

“Kosmetiese tatoes gaan meer oor werk aan die gesig en voorkoms. Dermapigment-tegnici werk in die mediese veld, en herstel littekens, operasiemerke, geboortevlekke, brandwonde en so aan. Ek fokus net op tepelrestorasie.”

Die tweede verskil kom by opleiding in.
“Dermapigment-tegnici voltooi spesifieke gesertifiseerde paramediese kursusse en oefen baie ure op varkvel, en moet eers ons tegnieke bemeester voor ons met pasiënte mag werk.

Ons word ook opgelei om beskadigde vel te verstaan, wat na mediese behandeling baie dun of dik kan wees of verrek het, en so aan. Kosmetiese tatoërkunstenaars werk met gesonde, ongeskonde vel en word nie hiervoor opgelei nie.

Ons benadering is ook effens anders: littekens en velskades is ons kos. Ons uitdaging is juis hoe ons dit kan inspan om dit deel te maak van die ‘normale’ voorkoms. ’n Vaardige dermapigmenttegnikus sal byvoorbeeld die littekens en velvoue om die geopereerde tepel ook inspan om ’n drie-dimensionele effek te skep.

Daarby gebruik ons mediese tatoe-ink wat getoets is en veilig is vir menslike gebruik. Na borskanker moet jy nie jou gestel oorlaai met ink wat verdag en/of toksies is nie. Dermapigmentasie is by verre veiliger as gewone tatoeëring, waar ink meestal nie van ’n mediese graad is nie.

Laastens gebruik ons ’n hoë definisie digitale tatoepen, nie die gewone tatoemasjien nie. Ons kan dus baie fyner werk en beplan.

Published in the Rooi Rose 12 September 2016

pink-drive

restore facebook

reach for recovery

tanya facebook

cancurvive creating cancer awareness

X

Copyright Warning

You are by law not allowed to copy any contant on this website.