As jy ’n kankerlyer is, is ons wens vir jou dat jy heel anderkant uitkom. Veral héél in jou hart, waar dit saak maak. Ons hoop hierdie vroue se ervarings help jou ’n bietjie daarmee. Saamgestel deur Salomé Delport. Medewerkers Vickie de Beer, Suzanne Kotzé, Susra Matthee en Anet Schoeman.

Volgens ons Nasionale Kanker-register se jongste syfers (2012) is Suid-Afrika se leeftydrisiko 1/15 vir wit vroue, 1/21 vir bruin vroue en 1/20 vir Indiërvroue. Vir swart vroue is dit 1/53. Dus sal 94 tot 95 uit elke 100 van ons tipiese lesers nóóit borskanker kry nie.

  • 89% van vroue wat borskanker kry, is vyf jaar later steeds met ons. Dus: jy kán oorleef.
  • Byna net soveel – 83% – haal die tienjaarmylpaal.
  • Meer as drie kwart (78%) is 15 jaar later nog hier, met ’n normale lewe.
  • 84% van vroue met herseptien-positiewe kanker oorleef tien jaar.
  • Wat as dit sleg gaan? Selfs al het jy stadium 4-borskanker, is jou kans om meer as vyf jaar te leef een uit vier.
  • Maar jy kan keer dat jy in so ’n situasie kom. Hoe vroeër jy borskanker opspoor, hoe meer kersies op die koek vir jou vorentoe: 90% van vroue wat op stadium 2 is en 72% van vroue wat op stadium 3 is, oorleef.
  • Ás borskanker hervat, gebeur dit gewoonlik binne vyf jaar. As jy ná vyf jaar nog kankervry is, is jou kanse op permanente remissie uitstekend.

Die goeie syfers
Soms moet jy net die gegewens onderstebo bekyk om te sien hoe volop die goeie nuus is.

Pak dit iewers uit
Jy is ook net ’n mens. Soms het jy ’n goeie huilsessie nodig. Soms wil jy sommer net uitdruk hoe jy voel, sonder raad of antwoorde. Party van ons het selfkoestertyd in ons eie warm grotjie nodig terwyl ander groot troos op facebook of ’n blog kry. Dit is nie beter of slegter nie. Al wat saak maak, is dat dit jou ondersteun.

Skaars soos dit is, gebeur dit sowaar én meer as tevore. Dr Justus Apffelstaedt, Kaapse borskankerspesialis, sê dit is omdat ons swangerskap uitstel na die tyd wanneer borskanker begin toeneem. Daar is ook goeie nuus: swangerskap vererger nie borskanker nie. Jou kanse op herstel is net so goed soos ander vroue s’n.

Wat jy moet weet van knoppies tydens swangerskap

  • Dit is báie belangrik dat ’n knoppie in die bors tydens swangerskap nie as sommer net swangerskapveranderings afgemaak word nie.
  • As jy ’n knoppie vermoed, gaan dadelik vir ’n borssonar. Die risiko weens die bestraling van ’n mammogram is nou klein maar nietemin dáár. Omdat jou borsweefsel nou digter is, kan ’n mammogram tot 40% van kankers mis, teenoor net 5% – 10% by nie-swanger vroue.
  • As daar ’n knoppie is, móét jy vir ’n diknaaldbiopsie gaan.

Nog drie dinge om jouself te beskerm

  • Doen jou maandelikse borsondersoek elke maand van jou swangerskap.
  • Dit is selfs belangriker as jy ouer en swanger is, want borskanker slaan meer dikwels toe by swanger vroue van 32 tot 38.
  • Probeer om jou gesin voor 32 te voltooi.

Wat vir my gehelp het
‘Tepelrestourasie het my weer bekend vir myself laat voel’ – Jo-Lize Groenewald, ’n jaar ná diagnose.
As daar iets soos ‘lekker’ aan ’n mastektomie is, is dit die helende ervaring dat jy weer tepels en areolas het.

Tuitjies. So noem André Brink tepels in Vlam in die Sneeu, die versameling van sy en Ingrid Jonker se liefdesbriewe. Poëties en soveel mooier. Mooi vóél is juis so belangrik vir ons ná al die trauma en verwonding van borskanker op soveel vlakke van vrou-wees.

“Die diepste, gelukkigste oomblikke van my lewe is die heelheid wat oor ’n vrou se gesig kom as sy haar nuwe tatoeëertepels het. Sy glimlag ánders. Tevrede. Dalk is dit net ek wat so dink?”

Tanya Swiegers-Loots se oë blink van passie vir haar nuwe werk. Sy is ’n suksesvolle kunstenaar met werke in bekende galerye. Of wás, want sy het dit verruil vir tepeltatoeëring. Of tepel/areola-restourasie deur middel van dermapigmentasie, soos dit medies genoem word.

“Ek kon nie nee sê vir die Here nie. Hy berei my al vyftien jaar lank vir hierdie werk voor. My Godsgawe is superrealisme. As daar iemand is wat ’n tepel driedimensioneel kan teken, is dit ek. Ek is gebóre vir hierdie werk.”

Haar storie begin met haar eie mastektomie:
“Ek dra die kankermutasie van die BRCA 1-geen en moes my borste drie jaar gelede laat verwyder. Albei.

“Toe ek in die teater ingestoot word, hoor ek die een suster in die verbygaan vir die ander een sê ‘ons amputasiepasiënt is hier’. Jou kop weet jy het nie borste ná jou babajare nodig nie en jy laat die woord verbygaan en druk deur met die ‘mastektomie’, soos jou dokter dit noem.

“Maar jou psige verras jou. Eendag, agt maande ná my mastektomie, lê ek op my maag en besef hoe intens ek my warm, sagte borstehobbeltjies mis. Daardie woord ‘amputasie’ slaan toe eers in. Diep.

“Ek is ’n nugter soort mens en gaan dus vir ’n rekonstruksie. Ek het dit so positief en hoopvol aangepak en gedink nou gaan alles reg wees. Dit was nie, want my rekonstruksie kon my nie tepels gee nie. In die spieël het my lyf vreemd bly lyk. Bot. Stomp. Herstel is ’n héle bors met tepels en areolas. Ek het hulle óók gemis.

“Dit is hoe ek begin nalees en op dermapigmentasie vir tepelrestourasie afgekom het. Toe ek rondvra, besef ek gou wat ek wil hê, is nie beskikbaar nie. In elk geval nie plaaslik nie. Oorsee is dit ’n gevestigde deel van jou reis na herstel maar nog nie by ons nie. Dit wat ek op die web gesien het, was pragtig. Plaaslike pogings was kosmetiese tatoeëring. Die meeste het gewissel van blote velpigmentering tot ’n hoogstens tweedimensionele effek. Dit het my laat besef dat ek uniek bekwaam is hiervoor.”

Tanya het aan die werk gespring en webfoto’s bestudeer. “Tepels is méér as net kleurpigment. Die ‘doek’ waarop jy werk, is nie plat nie. Die borste is ná chirurgie meestal onegalig en vol klein tot groter littekens. Jy moet kyk hoe jy die beskikbare kan inpas.”

Met ’n idee van wat sy wil doen, het sy eers met doodgewone grimering op haarself geëksperimenteer tot sy tevrede was dat sy ’n werklik realistiese tepel met sy areola kan skep. Gewapen met foto’s daarvan is sy terug na dr. Christiaan Gildenhuys, haar dokter by Tygerberg- hospitaal in die Kaap, en teen dié tyd haar vertroueling.

Hulle was verruk met haar idee, wat haar op die pad van behoorlike opleiding in paramediese tatoeëring geplaas het. Ná baie kursusse en baie meer ure se oefen op varkvel het sy gekwalifiseer en op pasiënte van Tygerberg-hospitaal begin werk.

Vandag het sy haar eie praktyk in Worcester, met die beste medies goedgekeurde toerusting en tatoeëer-ink van mediese gehalte.

“Dit kom vir my natuurlik. My nuwe doeke is nou vel en my verf is ink. Net soos met my skilderye is ek broeis oor elkeen van ‘my’ mensewerke. Ek was ook daar en ek weet hoe sy voel. Elkeen wat ek help, voel soos ’n stukkie genesing vir myself.

Al klink dit dramaties om dit so te stel is dit ’n ervaring soos om jou doodskleed uit te trek en in ’n nuwe blommerokkie-van-die-lewe in te glip.

Published in the Rooi Rose 24 January 2017

pink-drive

restore facebook

reach for recovery

tanya facebook

cancurvive creating cancer awareness

X

Copyright Warning

You are by law not allowed to copy any contant on this website.