Borskanker, mastektomie, rekonstruksie...en dan tatoeëer Tanya Swiegers-loots vir jou 'n baie realistiese areola en ja, selfs 'n 3D-tepel indien nodig. Haar eie kankerpad het haar tot hier gebring.

Die pienk slaan jou tussen die oë, dit sê Barbie, valle, girly. Dan spring spatsels rooi uit. 'n Skildery van Frida Kahlo in 'n wit doktersjas met 'n rooi kruis op. Die hospitaalbedjie het rooi-en-wit polkakolle. En wraggies, hier en daar is ook kalm blou. Al dié kleure verenig in 'n bont kamerjas, 'n fokuspunt.

Dis asof jy deur Alice se wonderspieël in 'n alternatiewe dimensie stap. Speel speel, 'n pophuis. Dis presies die indruk wat Tanya Swiegers Loots van Worcester wil skep. 'n Sprong weg van die werklheid, al is dit net vir die oomblik. As kunstenaar en gekwalifiseerde derma-pigment-tegnoloog doen sy paramediese tatoeëring, die enigste een plaaslik wat spesialiseer in tepel/areolarestourasie ná borsrekonstruksie.

Met haar fyn kunstenaars oog balansseer sy simmetrie, posisie, grootte, projeksie, tekstuur en kleur. Op haar webtuiste is die name van plastiese chirurge wat haar aanbeveel. "Kanker is aaklig, koud, klinies, onpersoonlik. Vroue kom hier broos. Dié prosedure is die einde van die rekonstruksieproses, van 'n lang moeilike reis. Ons wil sê: Wee' jy, borskanker het so baie gevat. Mooimaak het tweede gekom, dit het immers oor jou lewe gegaan. Vandag kry jy iets terug, kry jy jou tuitjies' terug."

Dis haar storie ook. 'n Verhaal wat vertel word deur 'n skildery van outydse Young Klinik-skoene teen die muur. Dis haar eie kunswerk, genoem Onbekende Wee. Die oorspronklike paar skoene word liefderik uitgehaal en gewys. "'n Niggie van my ma het kanker gehad, die skoene is hare. Ek het destyds geweet dis 'n familietrek, van my pa se kant af. Natuurlik het ek gewonder of ek ook daai pad gaan stap. En jy stap dit alleen. Jy kan so baie ondersteuning hê, maar niemand kan daardie kankerskoentjies namens jou aantrek nie."

Toe word haar ouer sus, Nadia, in 2007 met borskanker gediagnoseer net maar in haar middeldertigs. Sy het positief getoets vir die Brca1-geen, 'n skadelike afwyking van een van die borskanker-gene wat jou risiko vir bors- en eierstokkanker drasties verhoog. "Ons het altyd geweet daar is iets' aan my pa se kant. Ouma Gerda was een van vyf dogters. Vier is dood aan vrouekanker, syself op 46.

Daar is aanbeveel dat ek ook die toets moet laat doen. Ek het besluit, nee, ek was te bang. As ek toe geweet het wat ek nou weet, het ek 'n voorkomende mastektomie laat doen. Die resultate van die rekonstruksie is dan ook glo beter. Ek kon egter nie my kop daarom kry nie. Dit vrywillig doen? Nee."

Op veertig is sy ook met borskanker gediagnoseer. Die plus kant, dis in 'n baie vroeë stadium. Sy het die knoppie gevoel en ginekoloog toe gegaan. "Dis niks," sê hy. "Kanker voel soos 'n ertjie onder 'n kombers." 'n Jaar later, groter, vóél dit so. Tydens 'n roetine-ondersoek wys sy dit vir haar huisdokter. 'n Mammogram, die eerste een in haar lewe, en ultraklankskandering volg. Toe 'n naaldbiopsie. Kanker.

Van toe af het alles begin sweef, jy kan dit aan niemand verduidelik nie. Al daardie vroue in haar familie. In die lig van haar familiegeskiedenis het die chirurg 'n dubbele mastektomie aanbeveel. Latere toetse sou wys sy hét die Brca1-geen. Omdat die kanker so vroeg ontdek is het sy teen chemoterapie besluit.

Niemand kan egter sê jy's nou genees, daar skuil nie tog maar 'n kankerselletjie iewers in jou lyf nie. Jou vrede gee jy op. Ironies genoeg, gegewe haar omgewing nou, kon sy dit nie hanteer as iemand met 'n pienk strikkie by haar kom nie. "Dit het gevoel soos 'n nuwe identiteit. Almal ondersteun jou, maar jy voel deel van 'n subspesie. Ek wou weghardloop, nie artikels daaroor lees, daarvan hoor nie.

En kyk waar sit ek vandag, met my pienk gordyntjies! Dit gee sin aan wat met my gebeur het. Elke vrou hanteer dit op haar eie manier en as dit moes gebeur sodat ek kan doen wat ek nou doen, is dit eintlik koel."

Sy is 'n introvert, sku vir die kollig. Haar assistent, Annie (Paradys) de Kock, met haar boheemse styl, lyk meer na die tatoeëerkunstenaar. Die vyftien jaar wat sy op haar eentjie geskilder het, was lekker. Maar sy het uiteindelik "grys" begin raak. "Ek hou nie van te veel interaksie met mense nie. Dié is egter anders: Ek gee daardie vrou iets en sy weer vir my. Ek skilder steeds, maar kan nou doen wat ek wil, nie wat sal verkoop nie."

Dit het begin met haar eie soeke na afsluiting. Sy het nie dadelik 'n borsrekonstruksie gehad nie, wou net uit die hospitaal wegkom. So agt maande later het dit haar getref, hoe onnatuurlik haar lyf voel. Konkaaf, waar eers borste was. Sy het op haar maag gelê en daar was niks, net ribbes. Toe die besef: Só wou sy nie deur die lewe gaan nie.

Dr. Christiaan Gildenhuys, 'n plastiese en rekonstruktiewe chirurg by die Panorama-hospitaal in Kaapstad, het haar borste met haar eie vet opgebou. Dit lyk en voel baie natuurlik. Sy het begin navorsing doen oor areola en tepelrekonstruksie. Toe sien sy in Amerika is paramediese tatoeëring en areola-herpigmentasie die in ding. Maar plaaslik was daar niemand wat uitsluitlik daarop gefokus het nie. Hoekom kan ek dit nie doen nie, het sy gedink. Dié idee het bly spook, slaap laat wyk.

Dr. Gildenhuys het haar aangemoedig, daar is 'n behoefte aan dit. En so ook haar man, Francois. Finansieel was dit 'n waagkans, die opleiding en toerusting was duur. "Francois het van die begin af gesê: Jy is die een wat dit moet doen. Ek waag nie sommer kanse nie, ek moet seker wees van goed. En ons hét harde bene gekou, ek het my kar verkoop, my tuin met 'n drupper water gegee. As ek wou kop uittrek, het Francois gesê: Nee, jy gaan dit doen." Hy is 'n boots-en-bakkie-ou in besproeiingstegnologie. Sý het die "kunsklap en droomkop". Daar is ook die kinders, Emma (13), Jana (12) en Evan (22).

"Vroue besef nie hoe belangrik hul tepels met areolas is nie, die simboliese betekenis daarvan nie. Daarsonder lyk die bors net nie reg nie. Vóél dit nie reg nie. Jou vroulikheid is weg, selfs die rekonstruksie gee dit nie terug nie. Kyk hoeveel vroue lig daarna sommer maklik hul hemp op om jou te wys. Ek het ook. Die bors is nie meer sensueel nie. As jy die tepel/areola terugkry, hou dit op. Dis dan weer 'n bors, privaat. Jy voel weer soos 'n vrou."

Sy sien vroue se reaksie as hulle na die prosedure in die spieël kyk. En kry telkens hoendervel. Dis nie o, so mooi nie. Nee, net weer... bekend. "Jou oog is mos 'n interessante ding, kontras trek dit."

Sy doen ook 3D-tatoes, wat die illusie skep van 'n tepel. "Ek beveel dit egter net aan as jou tepelrekonstruksie onsuksesvol was. Ek het dit onlangs vir 'n identiese tweeling gedoen en dit was pragtig. Maar hul vel was perfek en mooi styf. Dis nie altyd suksesvol nie en verg meer sessies.

Eerder beveel sy aan dat jy 'n tepel chirurgies laat opbou. Haar ervaring is dat vroue dikwels nie genoeg inligting het nie. Hulle doen dit nie, sê hulle, want hulle sien op na die narkose, na die hospitaal. Maar dis 'n minimaal indringende prosedure wat met lokale verdowing gedoen. kan word. Dit word uit jou borsvel gevorm en 'n areola later rondom dit getatoeëer.

Tanya omring haar met dinge wat 'n simboliese betekenis het. Soos die josefskleed-japon. "Ná my diagnose het dit lank gevoel asof ek 'n doodskleed aanhet. Jy moet iewers op 'n punt kom waar jy daardie ervaring afsluit, die boksie aftik, weer jou geblomde rokkie aantrek. Dis wat ek ervaar met vroue hier. Hulle kry closure, ek is nou klaar. Nou beweeg ek aan.

Soms wil jy die doodskleed weer omhang; jy moet bewustelik daarteen besluit. Een van die grootste verliese wat kanker oor jou pad bring, is die vrede wat jy verloor. Gaan dit terug kom, hoe groot is die kans? Hulle gooi jou toe met statistieke. Dis hard, asof iemand 'n stempel op jou sit. Elke keer dat jy hoor iemand sê kanker het teruggekom, trek jy weer daardie doodskleed aan. Elke keer dat jy vir 'n roetine-opvolgbesoek gaan, het jy scan-xiety...

Daar is so baie klem op borskankeroorwinnaars as warriors, vegters. Ek ervaar dikwels dat 'n vrou opkrop, nie sê hoe swaar sy kry nie. Maar in haar binnekamer val sy uitmekaar. Of voor die spieël, hier, ná die prosedure. Jy het 'n pyn in jou skouer maar is te bang vir 'n scan. Jy loop eerder ses maande so. Want sê nou maar dis nie onskadelik nie...

Van hulle is sterk hoor, en dis hulle wat voor daardie spieël ineenstort. Een vrou, die huil het haar kromgetrek, sy het haarself met haar arms toegevou en hortend, soos 'n baba, gesnik. Niemand kan so huil as sy nie maande lank opgekrop het nie. Dis so onregverdig, nêrens op pad kon aflaai nie. Jy moes eers weer tepels kry, weer mooi en 'reg' lyk..."

Sy en Annie Paradys gee nie om as 'n vrou huil nie. Hulle wéét dan: Dis 'n nuwe begin. Op daardie einste polkakolbedjie vertel hulle hul stories. Maar daar word nie by die hartseer vertoef nie. "Die vreemdste ding, wanneer hulle hier uitstap, is dit regtig asof daar 'n verskuiwing was. "Nou beweeg ek vorentoe." En ek... elkeen is 'n steentjie in die muur van my genesing. Nog een en nog een... my muur raak net sterker.

Kontak Tanya 072 833 6938

Published in Sarie - 1 March 2017

pink-drive

restore facebook

reach for recovery

tanya facebook

cancurvive creating cancer awareness

X

Copyright Warning

You are by law not allowed to copy any contant on this website.